
Bewaarders van die Geskiedenis van ons Plaaslike Kulture
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch Privaatsak X5048, Stellenbosch, 7599
Tel.: (021) 886
9468 Web: www.heemkring.org.za
KONSTITUSIE
(soos gewysig 7/3/2001 en 14/3/2007)
1 Naam
Die naam van die vereniging is Die
Stellenbosse Heemkring (hierna “die vereniging” genoem).
2 Doelstellings
2.1 Om die
kultuurbodem en heem Stellenbosch (dorp en distrik) te bestudeer.
2.2 Om geskrewe en oudiovisuele
materiaal met betrekking tot Stellenbosch te versamel, te orden, te verwerk, te
ontsluit en te bewaar.
2.3 Om oorspronklike navorsing betreffende
Stellenbosch aan te moedig en te ondersteun, en om die resultate van sodanige
navorsing te publiseer.
2.4 Om binne die raamwerk van sy doelstellings
‘n inligtingsdiens in verband met Stellenbosch aan die publiek te lewer.
2.5 Om met ander persone en instansies wat
Stellenbosch se kultuur, asook sy natuuromgewing, bestudeer en/of bewaar, saam
te werk.
3 Lidmaatskap
3.1 Elke
persoon en elke instansie wat die doelstellings onder klousule 2 hierbo
onderskryf en die toepaslike ledegeld betaal, kan lid van die vereniging word.
3.2 Daar is vier kategorieë lede:
3.2.1 Gewone individuele lede
3.2.2 Institusionele lede (organisasies, liggame,
inrigtings - wat elk net een stem het)
3.2.3 Lewenslede
3.2.4 Erelede
3.3 Ledegeld: Lede betaal die ledegeld soos van tyd tot tyd
op ‘n algemene jaarvergadering vasgestel.
3.4 Erelede: Erelidmaatskap kan met die goedkeuring van* ‘n algemene jaarvergadering toegeken word
aan iemand (lid of nie-lid) wat besondere diens aan die vereniging en/of die
Stellenbosse gemeenskap gelewer het.
4 Bestuur
4.1
Die verkose bestuur bestaan uit ‘n voorsitter,
ondervoorsitter, sekretaris, tesourier en vier bykomende lede. Die argivaris is
ampshalwe ook lid van die bestuur en het stemreg. Die bestuur het die reg op ad
hoc-koöptering.
4.2 Die
ampsdraers en vier bykomende lede van die bestuur word op elke algemene
jaarvergadering vir ‘n termyn van een jaar verkies en is herkiesbaar.
4.3 Die bestuur vergader so dikwels as nodig
maar minstens twee maal per jaar.
4.4 Van ‘n bestuursvergadering word minstens
sewe dae vooraf aan elke lid kennis gegee.
4.5 Vyf lede van die bestuur maak ‘n
kworum uit.
4.6 Besluite word op ‘n
bestuursvergadering met ‘n gewone meerderheid van stemme geneem; die voorsitter
het ‘n gewone en ‘n beslissende stem.
4.7 Indien ‘n lid van die bestuur twee maal na
mekaar sonder geldige verskoning van ‘n bestuursvergadering afwesig is, hou so
iemand op om lid van die bestuur te wees.
4.8 Indien die voorsitter of sekretaris van ‘n
vergadering van die bestuur afwesig is, kies die aanwesige lede uit eie
geledere ‘n voorsitter of sekretaris vir die vergadering.
4.9 Indien ‘n ampsdraer in die loop van sy/haar
ampstermyn sy/haar amp neerlê, maar as lid van die bestuur aanbly, kies die
ander lede van die bestuur uit eie geledere ‘n plaasvervanger vir die
oorblywende gedeelte van die termyn.
4.10
Indien ‘n lid van die bestuur
in die loop van sy/haar ampstermyn uit die bestuur tree, kan die oorblywende
lede die vakature vir die oorblywende gedeelte van die termyn deur koöptering
aanvul.
4.11 Bevoegdhede van die bestuur:
4.11.1 Die bestuur is
in die algemeen verantwoordelik vir die beheer
oor die geldsake, organisasie en administrasie van die vereniging.
4.11.2
Die bestuur kan namens en ten behoewe van die vereniging ‘n werknemer of werknemers aanstel, teen ‘n vergoeding waaroor die bestuur besluit, en kan die diens van sodanige werknemer of werknemers beëindig.
4.11.3
Die bestuur kan enige projek ter uitvoering of
bevordering van die vereniging se doelstellings onderneem of laat onderneem.
4.11.4
Die bestuur kan ‘n lid wat na herhaalde skriftelike
herinnering in gebreke bly om sy/haar ledegeld te betaal, van die ledelys skrap.
4.12 Die bestuur, of ‘n lid of lede daarvan soos deur die
bestuur aangewys, stel die agenda vir elke algemene vergadering op en sorg dat
aan elke lid van die vereniging minstens tien dae vooraf behoorlik kennis gegee
word.
5 Algemene vergaderings
5.1 Die vereniging vergader
minstens vier keer per jaar (met inbegrip van die algemene jaarvergadering).
5.2 ‘n Kworum vir ‘n algemene vergadering is die
getal lede teenwoordig.
5.3 Besluite
word met ‘n gewone meerderheid van stemme geneem (behalwe wanneer dit om ‘n
wysiging van die konstitusie gaan: dan geld die vereiste in klousule 6, en
wanneer oor ontbinding besluit moet word: dan geld klousule 7). Die voorsitter
het ‘n gewone en ‘n beslissende stem.
5.4 Lede
wie se ledegeld vir die voorafgaande jaar of jare uitstaande is, het geen
stemreg nie.
5.5 Daar
kan met opsteek van hande of per stembrief gestem word, al na die vergadering
besluit.
5.6 Indien die voorsitter afwesig
is, tree die ondervoorsitter as voorsitter op en as laasgenoemde ook nie beskikbaar
is nie, kies die vergadering ‘n voorsitter uit die aanwesiges.
5.7 Algemene
jaarvergadering
Die eerste algemene
vergadering van die jaar, wat nie later nie as 31 Maart gehou moet word, neem
die vorm van ‘n algemene jaarvergadering aan. Die agenda daarvan is soos volg
(nie noodwendig in dié volgorde nie) * :
(a) Konstituering
(b) Goedkeuring van die agenda
(c)
Genooide spreker en/of kunstenaar(s)
(d)
Goedkeuring van die notule van die vorige algemene
vergadering
(e)
Sake uit die notule onder (d)
(f) Die voorsitter se verslag
(g) Die tesourier se verslag
(h) Vasstelling van ledegeld
(i) Wysiging van
konstitusie (indien wel)
(j) Jaarprogram
(k) Verkiesing van bestuurslede
(l) Algemeen
(m) Afsluiting
5.6 Buitengewone algemene vergadering
Die bestuur kan
wanneer omstandighede dit vereis ‘n buitengewone algemene vergadering belê. Die
bestuur moet so ‘n vergadering belê wanneer vyftien (15) of meer lede dit
skriftelik versoek, met uitdruklike vermelding van die rede vir die versoek.
6 Wysiging van konstitusie
Die konstitusie kan
slegs op ‘n algemene jaarvergadering gewysig word, na skriftelike kennisgewing
van die voorgestelde wysiging(s) minstens tien dae voor die vergadering, indien
twee derdes van die aanwesige lede ten gunste van die wysiging(s) stem.
7 Ontbinding
7.1 Die vereniging sal ontbind
indien –
7.1.1
daartoe besluit word deur minstens 75% van die aanwesige
lede, wie se ledegeld betaal is, by ‘n vergadering wat spesiaal byeengeroep is
om ontbinding te oorweeg en waarvan minstens 21 dae voor die vergadering
skriftelik kennis gegee is, met uitdruklike vermelding van die doel van die
vergadering, aan al die lede by hulle jongste bekende adresse, of
7.1.2 die ledetal
van die vereniging tot minder as tien gedaal het.
7.2 Indien die vereniging ontbind word
kragtens ‘n besluit geneem ooreenkomstig klousule
7.1.1 hierbo, sal die lede aanwesig by die ontbindingsvergadering geregtig wees
om met ‘n gewone meerderheidsbesluit te bepaal watter instansie of instansies
die bates van die vereniging sal oorneem, maar indien geen dergelike besluit
geneem word of geneem kan word nie, of indien ontbinding ooreenkomstig klousule
7.1.2 hierbo plaasvind, sal die bates van die vereniging die eiendom van die
Stellenbosch-Museumtrust word.
* 5.7 soos gewysig op
7/3/2001
* 3.4 soos gewysig op
14/3/2007
-------------------